Suid-Afrika se beste hefboom vir transformasie is vinnige groei wat werk skep. Ann Bernstein verduidelik hoe só ’n strategie moet lyk.

Sowel die gevare vir as die veerkragtigheid van ons grondwetlike demokrasie is die laaste paar weke dubbel en dwars gedemonstreer. Dit het die voorblaaie oorheers weens die gepaardgaande drama en die wesenlike belang daarvan.

Dit behoort egter nie die ander aanwyser van Suid-Afrika se huidige probleme, naamlik ons stagnerende ekonomie, te oorheers nie. Die twee is ooglopend verbind; verlangsamende groei is deels ’n gevolg van swak regering, en swak regering is deels te wyte aan ’n intensiewer stormloop deur die politieke elite na wat hulle regtens as ’n kleiner wordende ekonomiese koek beskou. Die erkenning van hierdie probleem hou ’n belangrike les in. Om die langtermyn-toekoms van die demokrasie te verseker beteken meer as om die Grondwet te verdedig: Ook gedeelde welvaart en ekonomiese insluiting deur groei en indiensneming is belangrik vir Suid-Afrika se sukses.

Die Suid-Afrikaanse gemeenskap en die ekonomie is veel meer inklusief as voor 1994. Bloot die uitbreiding van die swart middelklas getuig hiervan. Die verwoestende realiteit van werkloosheid, armoede en ongelykheid benadruk dat die land se “goeie storie” oorwegend dié van “binnekringers” is – diegene wat goed gevaar het danksy toegang tot ’n goeie opvoeding, hulpbronne, maatskaplike kapitaal en politieke verbintenisse. Die storie verloop baie anders vir die miljoene wat in die steek gelaat is deur ’n swak onderwysstelsel en die regering se beleidskeuses wat maatskappye ontmoedig om werk vir ongeskoolde mense te skep.

Die verhouding tusen vaardighede en indiensneming illustreer ons onewewigtige ekonomie: 77% van die 4,2 miljoen volwassenes met tersiêre kwalifikasies het werk, teenoor net 34% van die 22 miljoen volwassenes wat nie hoërskool voltooi het nie. Net 11% van die bevolking van ’n werkouderdom het tersiêre onderrig, maar hulle maak bykans 21% van die werkmag uit.

Dit is nie die eerste keer sedert 1994 dat ’n ekonomiese krisis ekonomiese hervorming op die sakelys dwing nie. In die eerste demokratiese dekade het die regering die gordel van openbare besteding deur die Gear-pakket ingetrek, maar die markhervormings wat hierdie soliede grondslag vir volgehoue groei sou aangevul het en daaruit munt sou slaan, was halfhartig, en daar is weens teenstand van die alliansie spoedig daarvan afgesien.

In die volgende dekade is die mislukking van die staat se benadering wat markhervorming vervang het, deur die opbloei in kommoditeite verberg. Vandag is daar geen soortgelyke foutspeling nie.

Suid-Afrika het ’n punt bereik waar die aannames van die regering wat die groei-en-ontwikkelingsbeleid bepaal, bevraagteken moet word. Hierdie idees sluit in dat markgedrewe groei nie vertrou kan word om inklusiewe uitkomste te hê nie; dat net poste met (relatief) hoë lone en vaardighede geskep moet word; dat die insluiting van diegene wat deur ’n mislukkende onderwysstelsel by hierdie scenario uitgesluit word deur maatskaplike toelaes en die maatskaplike loon bewerkstellig sal word; en dat die staatsektor ’n werkgewer as ’n laaste toevlug kan en sal wees. Al hierdie aannames is vals.

In ’n konteks van stadige globale groei, al hoe meer perke op openbare besteding en hardnekkige hoë werkloosheid- en armoedekoerse is ’n nuwe groei-agenda dringend nodig. Sake wat aandag moet kry om die ekonomie weer aan die gang te kry, sluit die volgende in:

  • Die land kort ’n geloofwaardige nuwe strategie vir inklusiewe groei.

Suid-Afrika het sedert 1994 etlike planne vir groei en ontwikkeling aanvaar en verwerp. Daar is tans drie, elkeen met verskillende voorstelle en benaderings. Erkenning dat vinniger groei net moontlik is as nuwe ondernemings tot stand gebring kan word en bestaande maatskappye kan uitbrei, behoort die kern van ’n nuwe groeistrategie te wees. Gepas gereguleerde maar vrye markte kan vir kostedoeltreffende en wye lewering sorg op gebiede wat strek van energie, infrastruktuur, behuising, vervoer en onderwys tot gesondheidsorg. Mededinging is goed vir groei en behoort op die hele ekonomie van toepassing te wees, ook die beleërde staatsbeheerde sektor. Dit vereis ’n bemagtigende omgewing vir alle ondernemings, wat op sy beurt ’n bekwame staat verg.

  • Vals opposisie tussen state en markte verhinder groei.

Ideologies gedrewe fantasieë om die staat tot niks te laat inkrimp of om dit uit te brei om op alle ekonomiese aktiwiteite inbreuk te maak, is ewe skadelik. Suid-Afrika het ’n bekwame staat en mededingende markte nodig. Die staat behoort ’n bemagtigende omgewing te skep om groei in die private sektor te ontsluit as die enigste manier om nasionale ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

’n Doeltreffende staat wat mededingende markte verstaan, eerder as een wat ’n spesiale verhouding met uitgesoekte ondernemings het, is van deurslaggewende belang. Beleidsformuleerders en beamptes moet volgens verdienste en bevoegdheid aangestel word, gepaard met groter waardering vir die vermoë van maatskappye en markte om groei aan te dryf, asook erkenning dat dit hul rol is om ’n ondersteunende, deursigtige omgewing te skep waarin dit kan gebeur.


  • Suid-Afrika het werkgeleenthede nodig vir die werkmag wat ons het, nie vir die een wat ons wens ons gehad het nie.

’n Werk is verreweg die kragtigste instrument vir insluiting, opwaartse mobiliteit en groter menswaardigheid. Die uitbreiding van Suid-Afrika se indiensnemingsopsies om nywerhede in te sluit wat baie ongeskoolde arbeid gebruik, is ’n voorwaarde om arm mense se vooruitsigte te verbeter. Hierdie sektore is ondermyn deur arbeidsmarkbeleide gegrond op die “ordentlike werk”-doktrine, wat die koste van indiensneming verhoog en ’n strukturele oorhelling na hoër lone geskep het. Hierdie situasie word vererger deur ’n vraag na vaardighede wat uit die skaarsste aan vaardighede spruit. Hervorming van die land se loonvasstellingsinstellings is nodig om hierdie verhouding weer te balanseer en indiensnemingsgroei te fasiliteer.

  • Groei verg dat die verhouding tussen die staat en ondernemings herstel word.

Die land sal nie sukses behaal as die regering pro-groei maar anti-onderneming is nie. Suid-Afrika se sakeomgewing is in groot mate gevorm deur die regering se diepgesetelde vermoede dat die najaag van wins altyd skadelike maatskaplike en ontwikkelingsgevolge het. Hierdie houding ontken grondwaarhede oor groei; dit is maatskappye wat aan mededingende druk onderwerp word wat toenemende welvaart vir gemeenskappe skep. As die regering groei wil hê en glo die private sektor moet belê en werk skep, mag hy nie sy verantwoordelikheid ontduik om markte te verdedig nie, veral nie onder sy eie ondersteuners nie.

Sakeleiers het nie openbare beleid suksesvol in ’n nuwe demokrasie beïnvloed nie. Die “markplein” is belangrik. Sakeleiers moet strategiese hulpbronne vir die ontwikkeling van beleidsvoorstelle oor nasionale kwessies aanwend en doeltreffender aan die debat oor die rol van markte en maatskappye in die gemeenskap deelneem.

  • Vaardighede is van deurslaggewende belang wat elke aspek van die groei-agenda betref.

Suid-Afrika het 3,4 miljoen mense tussen die ouderdomme van 15 en 24 jaar sonder onderrig, werk of opleiding. As ons nie die gehalte van tegniese en beroepspleiding verbeter nie, loop ons gevaar om die foute van basiese onderwys te herhaal: uitgebreide toegang, maar tot ’n baie swak produk. Die vaardighede-pypleiding moet hervorm word. Totdat dit wesenlike resultate oplewer, moet ons veel meer buitelandse vaardighede werf – nie net vir groot maatskappye nie, maar in die algemeen, om entrepreneurskap-, bestuurs- en opleidingsvermoë te dryf.

  • Suid-Afrika se toekoms is stedelik.

Beleid, mag en hulpbronne moet met hierdie realiteit tred hou. Die ekonomiese potensiaal van Suid-Afrika se stede – reeds die aandrywers van groei en indiensneming – moet die kern van die nuwe groeistrategie uitmaak. Stede moet ’n sterker stem in die nasionale beleidsformulering kry. Groei en indiensneming moet die wese van stedelike strategie wees. Stede het bykomende magte, groter verantwoordbaarheid aan inwoners en nuwe beleide oor behuising en stedelike vervoer nodig.

Suid-Afrika se beste hefboom vir transformasie vir miljoene is vinnige groei wat werk skep. Dit verg ’n nuwe strategie wat deur die stede gelei word, deur die private sektor aangevuur word en bemagtig word deur ’n skrander staat wat markte verstaan en massa-indiensneming nastreef.

Ann Bernstein is die hoof van die Centre for Development and Enterprise. Hierdie artikel is gegrond op die CDE se groei-agenda.